|
|
Marius Scheepers & Company Attorneys |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
[i] Húlle
móét vakbondgeld betaal Agentskapooreenkoms gesluit in SA se
grootste bedingingsraad Dit gaan meebring
dat bydraes vir vakbonde van die lone van tussen 50 000 en 70 000
werkers afgetrek gaan word. Dit is dié werkers wat nie lede van
vakbonde is nie. Die ooreenkoms sal
waarskynlik vroeg aanstaande jaar in werking tree. Dit dek reeds sowat
240 000 werkers en 8 000 maatskappye wat lede is van die
bedingingsraad vir die staal- en ingenieursbedryf, die land se
grootste bedingingsraad. Sowat 70% van dié werkers ís vakbondlede. Dit sal egter na
verwagting deur die minister van arbeid, mnr.
Membathisi Mdladlana, uitgebrei word sodat selfs maatskappye en hul
werkers wat nie lede van die bedingingsraad is nie, ook vakbondbydraes
van hul werkers sal moet aftrek. Werkers moet 1%
van hul loon aan die vakbonde afstaan. Alle maatskappye
in die staal- en ingenieursbedryf sal ook verplig wees om bydraes van
R150 per werkgewer per maand aan Seifsa te betaal. Die
agentskapsooreenkoms gaan waarskynlik ook daarop uitloop dat vyf
kleiner vakbonde in die bedryf hul erkenning van verteenwoordiging
verloor. Net die twee grootste vakbonde, die National Union of
Metalworkers (Numsa) en Solidariteit, sal waarskynlik oorbly. Hulle is die
enigste van die sewe vakbonde wat wesenlike lidmaatskap in die bedryf
het. Die grondwet van die bedingingsraad bepaal dat 'n vakbond
minstens 5% van die werkers in die bedryf moet verteenwoordig om 'n
party in die bedingingsraad te wees. Dit is die eerste
keer dat 'n agentskapooreenkoms, 'n uiters omstrede gebruik in
arbeidsbetrekkinge, vir só 'n groot bedryf gesluit en toegepas word.
Die enigste ander bedingingsraad waarin dit gedoen word, is in die
motorvervaardigingsbedryf wat sowat 17 000 werkers verteenwoordig. Voorstanders
daarvan voer aan dat werkers wat nie vakbondlede is nie en maatskappye
wat nie lede van Seifsa is nie, jare lank reeds die voordele van
kollektiewe bedinging geniet. Dit sluit in
omvattende diensvoorwaardes, loonverhogings wat beding word en die
voordele van voorsorgfondse, aftreefondse en mediese dekking. Die bedinging van
hierdie voordele word deur vakbondlede en deur Seifsa gefinansier. Numsa en
Solidariteit het die afgelope jaar op maatskappyvlak verskeie
agentskapsooreenkomste met groot werkgewers gesluit. Dié ooreenkomste
geld reeds by Iscor en Eskom. Die twee vakbonde
gaan in die toekoms op nóg sulke ooreenkomste aandring. Daar is
vanjaar tydens loononderhandelings in die kleinhandel-motorbedryf
reeds probeer om dit te beding, maar die werkgewers wou nie daaraan
toegee nie. Mnr. Dumisa Ntuli,
woordvoerder van Numsa, het gesê die ooreenkoms is 'n groot oorwinnig
vir die twee vakbonde en gaan waarskynlik 'n toename in ledetalle
beteken. ``Die geld sal in 'n afsonderlike rekening gehou word. Dit
mag nie vir bydraes aan politieke partye gebruik word nie net vir die
doeleindes van kollektiewe bedinging,'' het Ntuli gesê. Mnr. Dirk Hermann,
woordvoerder van Solidariteit, het gesê sowat 30 000 werknemers wat
nie lede van Solidariteit is nie, sal hulle moontlik nou by die
vakbond aansluit. ``Die wet op Arbeidsverhoudinge bevoordeel groot
vakbonde. Ons hou nie daarvan nie, maar dis die werklikheid. Daar is
net plek vir Cosatu-vakbonde en Solidariteit op 'n groot
bedingingsraad soos dié,'' het hy gesê. [ii] Regering,
Cosatu katvriendelik op Nedlac-beraad Mnr. Zwelinzima
Vavi, hoofsekretaris van Cosatu en die arbeidsektor se spreker op die
geleentheid, het gesê dit is noodsaaklik om voortdurend in gesprek te
wees met die regering en die sakewêreld en om saam te werk om
Suid-Afrika se maatskaplike probleme te pak en ekonomiese groei aan te
wakker. Daar was geen
sweem van Cosatu se onversetlike houding jeens die regering rondom
kwessies soos privatisering en neo-liberalisme nie. Dit lyk asof die
regering en Cosatu voorlopig die strydbyl begrawe en Vavi het die
regering selfs lof toegeswaai oor sy hantering van maatskaplike
krisisse. ``Hoewel die
regering nog steeds staan by die fundamentele beginsels van sy
ekonomiese beleid, dui onlangse besluite wat geneem is rondom kwessies
soos inflasieteikens, voedselpryse, MIV/vigs en 'n kleiner
groeivooruitsig in die begroting op 'n bereidheid aan regeringskant om
sy posisie aan te pas wanneer toestande sleg lyk,'' het Vavi gesê. Die
vakbondfederasie en die regering sal ook 'n gesamentlike agenda hê
vir die Groei en Ontwikkelingsberaad, wat volgende jaar in April gehou
word, het Vavi in 'n onderhoud aan Sake gesê. ``Ons het 'n
gemeenskaplike benadering. Ons het ook besluit om eerder 'n kleiner,
meer beheerbare, agenda te hê. ``Ons het 'n paar
harde lesse op die Werkskeppingsberaad van Oktober 1998 geleer. Ons
sal dus liewer 'n paar sleutelpunte na die beraad neem as om te
probeer om alles te hanteer,'' het hy gesê. Nodeloos om te sê
dat die verligting van armoede, werkskepping en ekonomiese groei
bo-aan die agenda sal wees. Terwyl die
sakesektor én die arbeidsektor in hul toesprake lofwoorde gehad het
vir die land se vordering tot dusver, was albei besorg oor die
maatskaplike toestand in die land, wat steeds versleg. Die slegte nuus is
dat Suid-Afrika die laagste BBP-groei per capita het en die kleinste
invloei van regstreekse buitelandse belegging van lande in
vergelykbare ekonomiese omstandighede. Insgelyks het die
gedeelte van die bevolking wat in armoede leef, toegeneem van 41% in
1996 tot 49% in 2001, en het Suid-Afrika die hoogste werkloosheidsyfer
van 'n aantal vergelykbare lande. Hierdie is die
harde feite waaroor op die komende beraad gepraat sal moet word. Mnr. Membathisi
Mdladlana, minister van arbeid, wat namens die
regering op die beraad gepraat het, het eweneens die belang van
maatskaplike dialoog uitgewys. ``Die (Groei en
Ontwikkelings)beraad sal 'n ware toets wees van die stand van ons
maatskaplike vennootskappe in die land,'' het hy gesê. ``Ons sal sien
of ons vennote inderdaad kan bydra tot die breë visie vir heropbouing
en ontwikkeling en kan uitstyg bo hul soms eng sektorale belange.'' Die uitdaging van
die beraad sal nie net lê in die ooreenkomste wat gesluit sal word by
die beraad nie, maar die mate van verbintenis tot daardie uitdagings,
het hy gesê. Cosatu was die
naweek stil oor die teer punt van privatisering. Vavi het in antwoord op 'n vraag hierop bloot gesê hy hoop die regering sal wel nog met die arbeidsektor in gesprek tree hieroor, maar gesê dit sal geen besprekingspunt by die ontwikkelingsberaad wees nie. [iii] Pasop
vir dié personeelwerwingsagentskappe Onlangse berigte
oor die uitbuiting van werksoekers laat die kollig val op
personeeldiensagentskappe wat los werkers werf vir maatskappye sonder
dat die werkers enige beskerming geniet. In sommige gevalle
betaal desperate werksoekers tot R800 om te registreer by sogenaamde
personeeldiensagentskappe wat hul dienste in koerante adverteer en dan
later blyk 'n bedrogspul te wees. Van Staden waarsku maatskappye sowel
as werksoekers om hulle te vergewis van die voorwaardes waaraan
personeeldiensagentskappe moet voldoen voordat hulle van een van dié
organisasies se dienste gebruik maak. Apso is die grootste
professionele liggaam wat die personeelwerwingsbedryf in Suid-Afrika
verteenwoordig. Daar is tans vyf
personeeldiensverenigings in Suid-Afrika wat saam die Confederation of
Associations for Private Employment Sector (Capes) vorm. Van Staden
maan maatskappye wat van personeeldiensagentskappe gebruik maak om
seker te maak dat dié agentskappe wel tot 'n vereniging behoort en
geregistreer is by die departement van arbeid. Slegs maatskappye
wat van agentskappe gebruik maak wat aan dié vereistes voldoen, het
toegang tot die etiese komitees waar dispute tussen werkgewers,
werknemers en personeeldiensagentskappe bygelê word. Werksoekers moet
ook daarop let dat personeeldiensagentskappe nie 'n registrasiefooi
van meer as 99c mag hef sonder dat die redes daarvoor duidelik omskryf
word nie. Apso-lede mag geen
fooie van applikante vra nie. In die geval van
Apso het korporatiewe en ander kliënte ook die versekering dat,
behalwe vir 'n verpligte toelatingseksamen, al die lede van die
organisasie op hoogte gehou word van die nuutste wysigings aan
arbeidswetgewing. Van Staden werk saam met die regering aan die Wet op
Indiensneming wat die regte van indiensnemers sowel as werknemers sal
omskryf. Van Staden vestig spesifiek die aandag op maatskappye wat
tydelike werknemers gebruik om hul eie arbeids-, maatskaplike en
statutêre verantwoordelikhede vry te spring. Die nuwe wet sal duidelik omskryf wie onder die gesag van
werkverskaffingsdienste val, wie die werkgewer is, wie die werknemer
is en wat almal se onderskeie verantwoordelikhede sal wees. [iv]
Plaaswerkers se diensvoorwaardes R650
'n maand in arm gebiede, R800 rondom stede
Die sektorale
vasstelling van diensvoorwaardes vir plaaswerkers is op Elsenburg
buite Stellenbosch deur mnr. Membathisi Mdladlana, minister van arbeid,
aangekondig. Dit maak voorsiening vir 'n minimum loon van R650 of R800
per maand afhangend van die streek waarin 'n plaas geleë is. Dit tree
op 1 Maart aanstaande jaar in werking. In die A-gebiede,
die dele rondom stede en waar inkomstes hoër is, is die loon R800 per
maand (R4,10 per uur) en in die armer landelike B-gebiede R650 per
maand (R3,33 per uur). Die aankondiging is deur AgriSA as ``onwelkome
nuus'' bestempel, hoewel Mdladlana reeds drie jaar gelede aangekondig
het dat 'n minimum loon vir die landbou-sektor beslis ingestel gaan
word. Mnr. Teddy
Matsetela van Nafu (National African Farmers Union) het die
aankondiging as `` 'n billike beginpunt'' bestempel, hoewel hy meen
dat benewens huisvesting en voedsel, die verskaffing van klere,
medisyne en ander dienste ook in ag geneem moet word. AgriSA meen dat
baie van sy vroeëre voorstelle om 'n praktiese minimumloonstelsel te
ontwikkel, in die wind geslaan is. Mnr. Japie Grobler, president van
AgriSa, het daarop gewys dat arbeid
die landbousektor se grootste koste-item is en dat dié sektor se
totale loonrekening reeds op byna R9 miljard staan. ``Terwyl die
behoud en uitbreiding van werkgeleenthede in hierdie stadium voorkeur
geniet, en des te meer in landelike gebiede waar werkloosheid
kommerwekkende afmetings aanneem, gaan hierdie vasstelling ongelukkig
'n teen-produktiewe uitwerking hê,'' het Grobler gesê. Die tydsberekening
van die aankondiging kan druk op die landbousektor verhoog waar
werkverliese reeds die afgelope dekade voorkom. Dit lyk of die El Niño-verskynsel
weer sy kop kan uitsteek, en mielie- en graanboere in die Vrystaat wag
dringend vir reën sodat hulle kan begin saai. Aan die ander kant
pas die aankondiging sowat twee weke voor die vyfjaarlikse nasionale
konferensie van die ANC in Stellenbosch Mdladlana waarskynlik. Hy werk
reeds vier jaar aan wat hy noem `` 'n ingewikkelde en sensitiewe saak''.
Minimum lone vir kwesbare groepe is ook 'n ANC-verkiesingsbelofte.
Mdladlana het gister beklemtoon dat dit nie sy taak is lone vas te
stel nie. Dit moet deur onderhandelings geskied. Hy het erken dat
die vereistes wel indiensneming op plase negatief kan raak.
Werkverliese behoort volgens hom egter nie voor te kom nie omdat
voorsiening vir 'n uurloon vir werk van minder as 27 uur per week
gemaak is en die minimum lone ook nie te hoog is nie. Vakbonde het
byvoorbeeld 'n minimum van R1 200 per maand geëis. Mdladlana het gesê
ondersoeke het getoon dat baie boere hul werkers goed betaal en
behandel en byvoordele bied waarop hulle trots kan wees. Sommige vrot
appels maak beskerming en die afdwing van minimum lone egter
noodsaaklik. Só is daar boere in die ou Transkei wat hul werkers met
'n kalf of suurmelk vergoed. Daar is onder meer bevind dat plaaswerkers die laagste
geletterdheidskoers in die land het, die gemiddelde loon landwyd in
2001 R544 per maand was, meer as die helfte van die land se
plaaswerkers sonder bykomende vergoeding langer as die wetlike perk
werk en vroue op plase ondanks hoër onderwysvlakke slegter daaraan
toe is as mans. [v] Hof
sê minderheidsvakbonde se verteenwoordigers moet erken word In gister se
uitspraak het die eenparige regbank van 11 regters beslis dat vakbonde
wat 'n minderheid van die werkers by 'n bepaalde werkgewer
verteenwoordig, die volste reg het om hul vakbondverteenwoordigers
erken te kry, om aan kollektiewe bedinging deel te neem en om
wettiglik te staak as hul eise ge¨gnoreer word. Met dié beslissing
het die konstitusionele hof 'n beslissing van die arbeidsappèlhof
tersyde gestel waarin bevind is dat minderheidvakbonde nie sulke regte
het nie. Gister se
uitspraak is gelewer deur regter Kate O'Regan. Dit kom nadat die
konstitusionele hof einde verlede week beslis het dat maatskappye aan
wie ander maatskappye dienste uitkontrakteer, die volle werkmag van
die uitkontrakterende maatskappy moet oorneem met behoud van alle
bestaande regte van die werkers. In gister se
uitspraak was die eisers die National Union of Metal Workers of South
Africa (Numsa). Die verweerders was die maatskappy Bader Bop, buite
Pretoria, en die minister van arbeid.
O'Regan het skerp
na mnr. Membathisi Mdladlana, minister van arbeid,
gekap omdat hy ter elfder ure Numsa se aansoek teengestaan het ondanks
die feit dat die minister aanvanklik te kenne gegee het dat hy hom in
die hofuitspraak berus. Sy het daarna
bevind dat vakbonde met minderheidsverteenwoordiging by enige
maatskappy ingevolge die grondwetlik verskansde reg op billike
arbeidspraktyke daarop kan aandring dat werkgewers hul
vakbondverteenwoordigers erken en dat sulke minderheidsvakbonde
toegelaat moet word om aan kollektiewe bedinging deel te neem. Wat betref minderheidsvakbonde se reg om te staak, het
O'Regan gesê die reg om te staak is 'n ``inherente'' reg van elke
werker in Suid-Afrika. Dié reg kan vergelyk word ``met die enjin
van 'n motor'' - werkerregte en die reg om te staak loop hand aan
hand. O'Regan het boonop beveel dat Bader Bop Numsa se hofkoste in
die arbeidsappèlhof en in die konstitusionele hof betaal. |